Kuiseb muskiete - spesie Maximus Mosquitos

in #afrikaans7 years ago

Oom Johannes het die storie vertel uit die dae toe hy in sy fleur boorgate moes boor vir die destydse Suidwes Afrikaanse Administrasie. Hy sê hulle slaan toe boorkamp op in die Kuiseb rivier, waar ‘n gat moes kom vir Swakopmund vir water. Muskiete was hier – so 20 kilometer van die see af - ‘n wesenlike plaag. Sommer vroe aand, toe byt hulle al fluks onder Oom Johannes en sy span.

Net daar besluit Oom Johannes om te oornag in een van die reuse pype waardeur die water uiteindelik Swakopmund toe sou gepomp word. Die pyplengte was ongeveer 5 meter, en die deursnit 1½ meter. Hy kruip in en laat die punte aan weerskante toestop met groot houttolle waarop elektriese kabels destyds gedraai was.

Oom Johannes sê hy het skaars sy lê gekry, of die muskiete begin met swaar klinkgeluide op die pyp land. Hy lê nog so lekker op sy rug, toe voel hy iets brand op sy gesig. Hy hoor terselfdertyd boorgeluide en toe hy ‘n vuurhoutjie trek, sien hy hoe die muskiete besig is om deur die pyp te boor met hulle angels. Dit is die warm ysterboorsels wat hom so op sy gesig gebrand het.

Gelukkig had Oom Johannes ‘n hamer by hom en hy begin toe die muskiete se angels een na die ander omklink teen die pypwand, soos wat hulle deur boor oppad na hom toe waar hy op sy rug lê. Teen 3 uur daardie môre voel Oom Johannes die pyp begin beweeg. Hy sê hy het toe al soveel muskiete se angels vasgeklink, dat die spul in staat was om met pyp en al op te styg. Toe vlieg hulle met hom afdraend - see se kant toe.

Oom Johannes sê dit is net daar waar die vreeslike benoudheid hom beetpak. Vlieg die muskiete met hom die see in en hulle word moeg en val in die water, sal die pyp mos sink. Die drukking van die water op die seebodem sal mos die proppe laat afskiet en dan beland hy in die water.

“En ou broer,” sê Oom Johannes, “ Ek kan mos nie swem nie………”

Hy hoor naderhand die branders breek, so naby is hulle aan die see.Hy vat toe sy knipmes en begin van die angels aan die binnekant van die pyp oopbuig, sodat die muskiete kan loskom. Hoe minder die muskiete raak, hoe moeër raak die wat oorbly en hoe laer vlieg hulle met die pyp. Toe val die spul. En die pyp rol om en om, met Oom Johannes soos wasgoed in ‘n balie daarbinne. Hy wag vir die water, maar gelukkig het hulle kort van die see geval.

Met die valslag, kom die proppe ook af en toe die pyp tot stilstand kom, klim Oom Johannes uit. Hy sien toe dat die pyp al die muskiete vermorsel het.
“Ou broer, daar staan ek toe - tot by my enkels diep in die bloed,” sê Oom Johannes.
“Die boorspan was baie bly om hulle baas te sien toe hy laat daardie agtermiddag by die kamp aangestap kom”, het Oom Johannes sy storie afgesluit……………