Martin sê hy en Maans het dié dag nie juis vis gekry op Myl 108 nie. Toe werk hulle maar so al langs die kus af Hentiesbaai se kant toe, gooi hier en daar in, waar die water reg lyk en kyk of hulle nie ‘n vissie in die hande kry nie. Net bokant Myl 72 kom hulle toe op ’n paar manne af wat met ‘n Transvaalse Kombi langs die water staan. Drie van hulle staan lyn in die water doer teen die see, terwyl ‘n vierde een langs die Kombi besig is om aas aan te sit.
Martin sê hy sien sommer met die stilhouslag dat die ou met sy rooi sweetpakbroek nie lekker is nie – hy sit ‘n stuk aas aan, maar draai sommer so in die proses ‘n deel van sy vinger ook vas aan die hoek met ‘n stuk hopeloos te dik rekgare. Sy koffiemeulkatrol lyk soos Martin se vrou se Fiat se enjin.
Op Martin se vraag of hulle al vis gekry het, sê die ou met so ‘n slapperige tong;
“Neej – onsj isj nog kort hier, maar daarsssjj….zzzoo..”.
Hy klink soos ‘n watertjie wat in die los seesand wegraak – praat nie klaar nie, raak sommer net weg en wys met so ‘n pap handjie see se kant toe.
Martin en Maans sit toe maar in die Landrover vir ‘n wyle en kyk of die manne langs die water iets vang.
Rooibroek het intussen sy aas aangesit en staan met sy rug see toe, stok landwaarts, parrallel met die grond. Toe “spring” hy ‘n effense springetjie agteruit, pluk die stok oor sy skouer seewaarts en laat los die lyn op die koffiemeul. Die sinker skiet feitlik regop die lug in en met die afkomslag tree Rooibroek met slap knieë uit die pad , sodat die sinker “wap!” in die sand agter hom land. Ongestoord rol hy lyn op en herhaal die oefening so twee of drie keer.
Toe doen òf iets reg, òf alles verkeerd en die sinker trek soos ‘n Amerikaanse tomahawk missiel reguit see toe – op ‘n plat trajek. Die drie langs die water sien nie die gevaar nie, en die sinker tref die middelste ou met spoed agter sy kop - net onder sy boshoed se rand. Teen die grond, duiselig en met bloed wat uit die wond stroom, lê die ou daar terwyl ‘n opname van die skade gedoen word deur sy makkers. ‘n Bondel vislappe word sonder seremonie met ‘n stort soetwyn natgemaak en op die sny gedruk om die bloeding te stop.
Toe dit nie help nie, word daar, na ‘n paar stewige rondtes soetwyn, besluit dit is Henties toe – na die Suster by die Kliniek – vir steke. Martin en Maans sien hoe die manne in die Kombi bondel en hoe Rooibroek die skuifdeur toeslaan. Boshoed gaan aan die sanik en almal kryt hom uit vir ‘n sussie en wat nog, wat naam weggooi deur so te huil oor ‘n ou klein snytjie.
Martin-hulle ry toe maar agterna om seker te maak die manne kom reg. Tien kilometer van Henties af, trek die Kombi af toe die natuur roep en Rooibroek klim uit en maak die skuifdeur oop sodat Boshoed en sy medepassasier ook kan uitklim.
Met die oopmaakslag hoor Martin-hulle duidelik ‘n onaardse “AAAaaaahhhhhgg……”.
Boshoed trek toe, met hierdie gil van verligting, sy linkerhand uit die Kombi se skuifdeur en knyp sy gekneusde vingers tussen sy bene vas, terwyl die trane uit sy oë spring………